Oor Die MOS

‘n Passie vir Afrikaanse onderwys wat lewens verander en leerders vir die toekoms voorberei

Moedertaal in Onafhanklike Skole, of te wel Die MOS Inisiatief, ‘n privaat maatskappy gebore op 5 Julie 2019 uit die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), fokus op die ontwikkeling van ‘n skolenetwerk om uitmuntende, wêreldklasonderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.
Ons groep se bestaansreg is daarin vasgevang om ‘n innoverende, inklusiewe, toeganklike, volhoubare en toekomsgerigte leerstelsel in Afrikaans te bou, waar kinders so verlief raak op leer dat hul lewenslange leerders sal wees en verby die vierde nywerheidsrewolusie sal floreer.
Ons skep ‘n netwerk van volhoubare, enkelmedium, onafhanklike Afrikaanse skole wat regoor Suid-Afrika bedryf word – oop vir almal, bekostigbaar en met hoë standaarde en innoverende leer. Ons skole sluit preprimêre, primêre en sekondêre fases in. Ons fokus lê dus juis dáár waar voldoende Afrikaanse skole met kwaliteit onderrig ontbreek.

Vennote en Akkreditasies

Vennote en Akkreditasies

a39131 mos duisende leerders

Ons naam

Die naam verwys na Moedertaal in Onafhanklike Skole, maar ook na die mosplantjie wat orals groei en met min vogtigheid floreer. Natuurlik vorm MOS ook ’n integrale deel van die wynmaakproses – wat een van Suid-Afrika se trotse uitvoerprodukte is.
Benewens hierdie simboliek, word die naam MOS ook heel lekker met die unieke Afrikaanse woordjie “mos” geassossieer, soos in: Dis mos slim!

Ons skolenetwerk

Die MOS het sedert sy ontstaan in 2019 met rasse skrede gegroei en is trots op die skole wat reeds deel van die groep uitmaak. Op 1 November 2019 maak Kleinhoewe Kleuterskool in Rustenburg geskiedenis as die eerste skool in die MOS Skole groep. Futurum Akademie in Jan Kempdorp volg op 1 Maart 2020 – net voor die Covid-pandemie die land in ‘n winterslaap laat verval.
Gedurende Covid word MOS-Wêreldwyd aanlyn tuisskool geloods en op 27 Januarie 2021 skryf die eerste aanlyn leerder by MOSww in. Knikkie Knakkie Kleuterskool in Wonderboom, Pretoria word as nuweling op 16 Junie 2021 in die groep verwelkom gevolg deur Karos Akademie in Beaufort-Wes op 19 Januarie 2022.
Abra-Kedabra Crèche in Bellville, Linden Akademie in Linden en Vuurvliegie Akademie in Beaufort-Wes volg almal op1 Desember 2022. Kosmos Akademie word die baken van Afrikaanse onderrig in die grasvelde van Mpumalanga op 13 Mei 2024.
Op 13 Mei 2024 word Emmanuel Kindersentrum in Constantiapark, Pretoria, ‘n MOS-skool, gevolg deur Die Rots in Linden, Johannesburg met 20%-aandeelhouding, op 5 Julie 2024. Knikkievallei in Krugersdorp is die eerste skool wat in 2025 in gebruik geneem word op 6 Januarie 2025.

Ons waardes

Ubuntu

‘n Eienskap wat twee van die noodsaaklike menslike deugde, naamlik deernis en menslikheid, insluit. Ons glo daarin dat kwaliteit onderrig die voorreg van almal is en niemand daarby uitgesluit mag word nie. Ons model is dus op ‘n insluitende, inklusiewe model gebaseer wat maklik toeganklik vir alle moedertaalsprekers is.

Omarm die toekoms

Die wêreld waarin ons leef verander elke sekonde. Die MOS Inisiatief erken die dinamika van leer en die behoeftes van die arbeidswêreld wat deurlopend verander en poog daarin om ons leerders op al die verwagtinge en uitdagings voor te berei deur die vaardighede wat deur ons stelsel aangeleer word.

Lewenslange leer

Die doelwit van Die MOS Inisiatief is om ‘n liefde vir leer by elke leerder te kweek sodat hulle lewenslange leerders sal word wat deur hulle kennis, vaardighede en ondervinding ‘n sinvolle bydrae tot die wêreld sal maak.

Vind meer uit oor Enso Akademie

enso akademie logo 12
Close the CTA