Die Kritiese Belangrikheid van Moedertaalonderrig vir Suid-Afrikaanse Leerders | Dr Annelie Wassenaar

die mos inisiatief moedertaalonderrig

Deur: Dr Annelie Wassenaar

“As jy met iemand praat in ‘n taal wat hy verstaan, gaan dit na sy kop toe. As jy met hom praat in sy moedertaal, gaan dit na sy hart toe.” – Nelson Mandela

INLEIDING

Nelson Mandela se woorde eggo die essensie van wat moedertaalonderrig beteken: dit gaan nie net oor kommunikasie nie, maar oor identiteit, begrip en die bou van selfvertroue. In ‘n diverse en meertalige land soos Suid-Afrika, waar elf amptelike tale erken word, is die kwessie van moedertaalonderrig nie net ‘n akademiese onderwerp nie, maar ‘n sosiale noodskaaklikheid. Die gebruik van leerders se moedertaal as medium van onderrig is nie net ‘n kulturele reg nie, maar ‘n belangrike faktor in akademiese prestasie en die ontwikkeling van kritiese denke.

DIE ROL VAN MOEDERTAAL IN BEGRIP EN LEER

Talle navorsingstudies bewys dat leerders konsepte vinniger en meer doeltreffend verstaan wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word. In plaas daarvan om tyd aan die vertaling van instruksies en inhoud te spandeer, kan leerders hul energie op die werklike inhoud fokus. Moedertaalonderrig maak die leerproses meer natuurlik en betekenisvol, wat die grondslag lê vir sukses in verdere onderrig, insluitend die aanleer van addisionele tale soos Engels.

KULTURELE IDENTITEIT EN SELFVERTROUE

Taal is ‘n draer van kultuur en geskiedenis. Wanneer ‘n kind in sy of haar moedertaal leer, word daar erkenning aan daardie kind se identiteit en agtergrond gegee. Dit dra by tot ‘n gevoel van trots en selfwaarde, wat onontbeerlik is vir gesonde ontwikkeling. In teenstelling hiermee kan leer in ‘n vreemde taal vervreemding, minderwaardigheid en lae selfbeeld meebring – faktore wat leerprestasie negatief beïnvloed.
 

DIE UITDAGINGS VAN MEERTALIGHEID IN ONDERRIG

Hoewel die voordele van moedertaalonderrig duidelik is, is die implementering daarvan nie sonder uitdagings nie. Logistieke kwessies soos die gebrek aan leermateriaal in alle amptelike tale, onvoldoende opgeleide onderwysers en die druk van globalisering (veral met Engels as internasionale taal) maak dit moeilik om moedertaalonderrig oral te implementeer. Tog mag hierdie struikelblokke nie as verskoning dien om van hierdie reg af weg te skram nie.
 

OPLOSSINGS EN PAD VORENTOE

Die bevordering van moedertaalonderrig begin by beleidsvlak: die regering moet sterker steun bied vir taalontwikkeling, insluitend die vertaling van handboeke en die opleiding van meertalige onderwysers. Skole behoort ook ouers en gemeenskappe te betrek by taalbesluite, sodat moedertaal nie net as ‘n akademiese instrument gesien word nie, maar as deel van ‘n breër strewe na gelykheid en regverdigheid. Terselfdertyd moet leerders steeds aan ander tale, soos Engels, blootgestel word – maar, nie ten koste van hul eie taal nie.

SLOT

Moedertaalonderrig is nie net ‘n pedagogiese strategie nie – dit is ‘n reg, ‘n noodsaak en ‘n brug tussen die verstand en die hart. In ‘n land met ‘n geskiedenis van taalonderdrukking is dit nou meer as ooit tyd om elke kind die reg te gee om in hul eie taal te leer.

Vind meer uit oor Enso Akademie

enso akademie logo 12
Close the CTA