Oorspronklik gepubliseer op: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/luister-kabouterbos-kleuterskool-is-die-plek-waar-kleintjies-in-afrikaans-kan-gedy/
Die MOS Inisiatief brei met opgewondenheid uit na die hartjie van Brooklyn, Pretoria, met die opening van Kabouterbos Kleuterskool – ‘n plek waar kinders se verbeelding wortelskiet en hul drome vlerke kry. Op Dinsdag 1 Julie maak die splinternuwe skool sy deure by Murraystraat 371 oop en skep ‘n ruimte van sagtheid, speel en groei, waar kleintjies teen hul eie tempo kan ontwikkel tot die unieke mense wat God hulle bedoel het om te wees.
Kabouterbos is nie net ‘n skool nie – dit is ‘n fantasiewoudparadys waar babas, peuters en kleuters spelenderwys tot hul volle potensiaal ontwikkel.

Marinel Hoffmann is die skoolhoof van Kabouterbos Kleuterskool.
Hier beweeg tyd stadig, en kinders kry die ruimte om hulself te wees – veilig, geliefd en vry om te ontdek.
“Hoekom begin ons hierdie skool? Ons het ‘n passie vir voorskoolse kinders. In ‘n wêreld waar kinders dikwels te vinnig moet grootword, glo ons daar moet ‘n plek wees waar hulle nie net leer tel nie, maar leer dat hulle saak maak. By Kabouterbos is verbeelding belangriker as resultate – ‘n kind se hart is net so belangrik soos hul brein,” sê Marinel Hoffmann, skoolhoof van Kabouterbos Kleuterskool.
“Ons embleem is geïnspireer deur Esegiël 47:12-13 en Psalm 1:3 – die beeld van die boom van die lewe. Vir ons simboliseer elke boom die uniekheid van elke kind: elkeen groei op sy eie tyd, in ‘n veilige en liefdevolle omgewing – ‘n tweede huis waar sterk fondasies gelê word vir ‘n suksesvolle toekoms.”
Hoffmann sê Kabouterbos se waardes is diep in hul Christelike geloof gewortel. “Ons skep ‘n omgewing waar empatie, respek en liefde deel is van die alledaagse roetine. Elke kind is kosbaar en spesiaal, en ons personeel – gekwalifiseerd en ervare – begelei kinders met sorg, liefde en karaktervorming deur hul ontwikkelingsmylpale.”
Kabouterbos is deel van Die MOS Inisiatief, wat in 2019 gestig is om moedertaalonderrig in onafhanklike skole te bevorder. Dié inisiatief, met reeds 13 skole reg oor Suid-Afrika, se missie is om Afrikaans te versterk en ‘n ruimte te skep waar kinders in hul taal en kultuur kan floreer.
Besoek ons gerus by www.kabouterbos.co.za, kontak die hoof by 082 465 5292, of kom loer in by ons pragtige nuwe geriewe in Brooklyn – ʼn plek waar kinders kan speel, groei en blom.



