Pretoria, Mei 2025 — Die MOS Inisiatief kondig met trots die opening aan van hul nuutste uitbreiding in die voorskoolse onderwysruimte – Kabouterbos Kleuterskool, geleë in die boomryke hart van Brooklyn, Pretoria. Hierdie nuwe instelling skep ’n fantasieparadys waar kinders kan speel, leer en floreer te midde van die natuur se rustigheid. Dit is ook die perfekte voedingsbron vir puik Afrikaanse laerskole soos Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Pretoria-Oos, Laerskool Lynnwood en Laerskool Menlopark.
’n Kleuterskool met ’n missie
Kabouterbos Kleuterskool is gebou op die fondament van ’n diep passie vir babas, peuters en kleuters. Die visie is eenvoudig: kinders leer die beste wanneer hulle veilig, geliefd en vry is om hulself te wees. Met speelse leerervarings en betekenisvolle interaksies word elke kind begelei om hul volle potensiaal te bereik – met oop harte, oop hande en groot drome.
Skoolhoof Marinel Hoffmann deel haar perspektief:
“Die voorreg om saam met gesinne van die begin af ’n pad te stap, is iets wat ek met nederigheid en opgewondenheid aanpak. ’n Nuwe skool beteken nuwe geleenthede – ’n vars begin vol hoop, avontuur en ruimte om elke kind se unieke storie te vier.”
Geloof en groei: Die hart van ons identiteit
Die skool se identiteit word weerspieël in sy logo – geïnspireer deur Esegiël 47:1–13 en Psalm 1 – die boom van die lewe. Soos ’n boom wat by water geplant is, streef Kabouterbos daarna om kinders te help om diep te wortel, sodat hulle met geloof, vreugde en veerkragtigheid kan groei.
Die waardes wat by Kabouterbos geleef word, is onlosmaaklik verbind aan Christelike beginsels:
● Empatie en respek vir elke kind, ouer en kollega
● Erkenning van elke kind se uniekheid en doel
● ’n Veiligheid en liefdevolle ruimte vir verkenning en ontwikkeling
Onderwys met hart en doel
Kabouterbos bied ’n gestruktureerde, maar liefdevolle benadering tot vroeëkinderontwikkeling. Kinders leer deur spel, ontdekking en verhoudings, wat hulle voorberei met ’n sterk emosionele en opvoedkundige grondslag vir die toekoms.
Roedolf van der Westhuizen, Uitvoerende Hoof van Die MOS Inisiatief, sê:
“”Toe ek die eerste keer tussen die pragtige bome op die eiendom rondstap, kon ek in my geestesoog sien hoe my eie kinders hier speel en in die proses leer. Ons wil in die hartjie van die stad ‘n kabouterbosruimte skep waar fantasie en werklikheid bymekaar kom – waar kleuters na hartelus kan speel en begin lief raak vir leer, want dis MOS lekker!”.”
Kabouterbos Kleuterskool – waar kinders nie net speel nie, maar opgroei met betekenis, liefde en hoop.
Vir medianavrae, kontak: Marinel Hoffmann
Skoolhoof
hoof@kabouterbos.co.za
+27 82 465 5292
www.kabouterbos.co.za



