Ouers staar vandag talle finansiële uitdagings in die gesig, waarvan hul kinders se opvoeding een is. Die toename in alledaagse uitgawes maak dit al hoe moeiliker vir ouers om ‘n balans te vind tussen hul kinders se opvoeding en hul groeiende lewenskoste.
Elke kind verdien moedertaalonderrig en juis daarom maak Die MOS Inisiatief se inklusiewe model dit toeganklik en bekostigbaar vir alle Afrikaanse moedertaalleerders. Die MOS Inisiatief se skole vorm ’n unieke Afrikaanse skolenetwerk wat voorsiening maak vir elke fase van ’n kind se leerreis. Deur hul netwerk van skole regoor Suid-Afrika en hul aanlyn tuisskooldiens, MOS Wêreldwyd, bied hulle uitnemende onderrig wat volhoubaar, inklusief, en toekomsgerig is.
Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief, sê die grootste uitdaging deesdae is dat ouers nie meer skoolgeld vir hulle kinders kan bekostig nie. MOS, ’n privaat maatskappy wat in 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is, en bied verskeie opsies vir ouers regoor Suid-Afrika en selfs wêreldwyd.
Omdat dit een van MOS se doelstellings is om Afrikaanse moedertaalonderrig finansieel volhoubaar te maak, het hulle besluit om hul reeds sterk sakemodel uit te brei en kapitaal by ondersteuners en beleggers te werf.
Dié unieke MOS Slim Effekte (skuldbriewe) word deur blokkettingtegnologie onderskryf. Hierdie innoverende tegnologie stel MOS in staat stel om effekte aan ’n groter groep beleggers beskikbaar te stel as wat die geval sou wees indien hulle tradisionele kapitaalmarkte gebruik het.
Die MOS Slim Effekte word deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (deel van die Dagbreek Trust) onderskryf en gewaarborg. Dit is die eerste korporatiewe effek wat as ’n slim-effek verlede jaar in Afrika uitgereik is.
Roedolf verduidelik dat beleggers deur die MOS Slim Effekte die geleentheid het om n rentloers van Pirma plus 2 % te verdien op ’n belegging waarvan die risiko goed bestuur word, terwyl hulle terselfdertyd ’n beduidende bydrae tot die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal maak.
Met die MOS Slim Effek is R100 miljoen verlede jaar ingevorder. MOS het drie groot projekte met dié kapitaal aangepak.
Dit sluit in die Kosmos Akademie in Middelburg, Mpumalanga. Dié nuwe toevoeging tot Mpumalanga se onderwyslandskap, beloof om ’n baken van Afrikaanse onderwys te wees. Kosmos Akademie is gebou op die grondslag van akademiese uitnemendheid en die algehele ontwikkeling van elke leerder sodat hulle die toekoms met selfvertroue kan aanpak.
Die tweede fase van Karos Akademie in Beaufort-Wes in die Wes-Kaap is ook met dié geld voltooi. Karos Akademie is gebore uit die droom om Karoo-kinders die kwaliteit onderrig te bied wat kinders in die groot stede geniet – uit die gerief en sekuriteit van hul ouerhuis.
Die doelwit van Karos Akademie is om hoë kwaliteit, kreatiewe onderrig in die Karoo te vestig wat kinders as individue benader en hulle interne begeerte om te leer, aanwakker, sodat hulle in die toekoms nuwe uitdagings met selfvertroue kan aanpak en voorspoed behaal.
Die Knikkievallei Kleuterskool is in samewerking met die Marlothi NPC, ’n niewinsgewende organisasie, oorkant Laerskool Kenmare in Krugersdorp tot stand gebring. Knikkievallei werk nou saam met Laerskool Kenmare om ‘n soomlose oorgang vir leerders vanaf die kleuterskool na die laerskool te verseker. Dit voldoen ook aan Die MOS Inisiatief se mandaat om ’n pyplyn van Afrikaanse onderrig in groeiende Afrikaanse gemeenskappe te verseker en uit te bou.
Volgens Roedolf is die skoolsektor een van die min sektore wat nog nie tegnologie soos baie ander sektore omarm het nie.
“Hulle vind dit daarom nog moeilik om dinge goedkoper te doen teen dieselfde kwaliteit of selfs beter deur die gebruik van tegnologie,” sê hy.
Roedolf, ’n geoktrooieerde rekenmeester en entrepreneur met ’n passie vir Afrikaanse onderwys, sê dit kan oorbrug word deur meer kommersieel na skole te kyk.
“’n Skool is ’n groot besigheid. ’n Mens moet daaraan dink hoe ’n skool kommersieel kan funksioneer om dit bekostigbaar vir leerders te maak.”
Volgens hom verskaf skole nie net onderrigdienste nie, maar beskik ook oor bates soos skoolsale, wat hulle kommersieel kan aanwend soos om dit uit te verhuur om hul begroting te laat klop.
Om Afrikaanse onderrig te verseker en uit te bou is deel van MOS se DNS.
“Ons doel is om ‘n pyplyn van Afrikaans vanaf kleuterskool deur laerskool na hoërskool vir leerlinge te
skep.”
Kyk hier na Roedolf van der Westhuizen se volledige onderhoud op Die Groot Ontbyt:



